‘Wat is daar langs jou kop? Blompotte? Vandag se kinders luister nie na mens nie!’

Bogenoemde is ‘n algemene klagte onder ouers en onderwysers. Dit word ook onderstreep deur navorsing. Volgens internasionale studies is ouditiewe ontwikkeling by kinders gemiddeld 4 jaar agter die aanvaarbare norm vir hulle ouderdom. Dit beteken dat ‘n kind eers op 11 jaar die luistervaardighede het wat hy op 7 jaar moes gehad het. Hulle visuele vaardighede is oorontwikkel deur blootstelling aan televisie, rekenaars, advertensies, rekenaarspeletjies ens. Gebrekkige ouditiewe ontwikkeling dra by tot o.a. disleksie, hiperaktiwiteit en aandagsgebrek – en meeste onderwysers kan bevestig dat hierdie probleme al hoe meer algemeen word. Wêreldwye disleksie staan tans op 60% van skoliere.

Ouditiewe ontwikkeling begin reeds voor geboorte. Selfs voor die ore ontwikkel het ervaar die baba klankvibrasies d.m.v. sy vel en skelet. Die eerste musiek waarna Baba luister is die ritme van sy ma se hartklop, asook ander baarmoedergeluide. Teen 28 weke is die ore totaal funksioneel, hoewel die baba gedempte klanke hoor a.g.v. die vrugwater en ook ‘n waterprop in die oor. Verskeie studies het bewys dat babas musiek herken wat voor hul geboorte aan hulle gespeel is.

Dit is moeilik om presies vas te stel wat die effek van musiek op ongebore babas is. Daar is egter wetenskaplike studies wat die effek van musiek-en klankterapie op premature babas kon vasstel. In een so ‘n studie is babas blootgestel aan baarmoedergeluide, wiegeliedere asook Mozart. Daar is ‘n vergelyking getref tussen hierdie babas, en babas wat sonder enige klankterapie gelaat is. Die babas wat klankterapie gehad het het hoër saturasie van bloedsuurstof gehad, en daar was ook ‘n neiging tot beter groei in kopomtrek.( Die omtrek van die kop gee aan dokters ‘n aanduiding van gesonde breingroei.). ‘n Ander studie toon dat premmies wat klankterapie kry rustiger is, met minder wilde bewegings. (ongekontroleerde bewegings by premmies dra by tot gewigsverlies en verlies aan liggaamstemperatuur).

Indien rustige musiek soveel voordele inhou vir premmies, sal dit sekerlik ook voordele inhou vir die ongebore baba asook die voltermynbaba. ‘n Bykomende voordeel is dat Mozart nie net voordele inhou vir babas nie, maar ook vir volwassenes (sien www.tomatis.de). Die kalmerende klanke van Mozart (en ook Bach, Schubert, Haydn, Vivaldi, Mendelssohn en Handel) laat die ouer ook ontspan, en ‘n ontspanne ouer is gewoonlik ‘n beter ouer!

Reeds voor geboorte leer die baba die infleksies van sy moedertaal ken. Hy voel ook sy ma se emosies aan, omdat hy verskille in hartklop en bloedtoevoer kan hoor. Hy ervaar ook verskille in stemtoon.

Taegyo is ‘n eeue-oue praktyk wat sy oorsprong in China en Korea het. Volgens Taegyo word ‘n baba se ouderdom getel vanaf bevrugting. Voorstaanders van Taegyo glo dat die belangrikste deel van ‘n kind se opvoeding die tyd in die baarmoeder is. Hulle sien dit as uiters belangrik dat die verwagtende mamma rustig, gelukkig en tevrede moet wees tydens haar swangerskap. Sy is hoofsaaklik verantwoordelik vir haar kind se ‘opvoeding’ in utero, maar die pa is weer verantwoordelik om te sorg dat sy vrou gelukkig is en veilig voel. Ons kan beslis iets leer by hierdie denkwyse. Net soos wat die ma wat swanger is en borsvoed haar voedselinname moet dophou, moet sy ook in ag neem watter klankdieet haar baba kry. Indien sy rustig en ontspanne is, sal die baba dit hoor en aanvoel dmv haar hartklop en stemtoon.

‘Die ore is die 5de sintuig om te ontwikkel en bou voort op die vorige 4. Hoe later ‘n sintuig ontwikkel hoe meer kompleks is die sintuig en hoe groter die effek van daardie betrokke sintuig (bv ore) op die fetus/baba/kleuter/kind se totale ontwikkeling.’ – Dr. Melodie de Jager

Die ore bou ‘n brug tussen die kognitiewe en die emosionele ontwikkeling; d.w.s. die ‘dinkbrein’ en die ‘voelbrein’, en daarom is hulle uiters belangrik.

Om ‘n voorbeeld te noem: Die ore hoor ‘n waarskuwingstoon in Mamma se stem. So help die ore die ‘voelbrein’ om veiligheid te bewerkstellig deur die bron van gevaar te identifiseer. Dit word deur die ‘dinkbrein’ verwerk deurdat die kind die belangrikheid te besef om NOU te reageer weens die toon in mamma se stem.

Die ore is belangrik vir sosiale ontwikkeling. D.m.v die ore word emosie die eerste keer waargeneem. Wanneer kleinding emosie in ‘n stem of in musiek kan hoor, kan hulle dit ook beleef en begrip daarvoor ontwikkel. Hierdie proses begin reeds in die baarmoeder. Die ore is net so belangrik vir taalontwikkeling

A person can only speak what they can hear
A Tomatis

Elke taal het ‘n unieke melodie en ritme. Die baba hoor van voor geboorte al die frekwensies van sy moedertaal. Dit berei sy breintjie voor om self later te praat, en nog later te lees en te skryf.

Hoor die baba argumente, ontstelde stemtoon, en die gebler van televisie, selfone en radio, of hoor hy Mamma se rustige hartklop, haar sang, liefdevolle gesprekke met Pappa, natuurgeluide en so dan en wan ‘n dosis goeie musiek?

Ek is van mening dat die kinders wat vandag op die skoolbanke sit en nie Juffrou se instruksies hoor nie, van hul babatyd af so gewoond geraak het aan geraas, dat hulle nie meer effektief kan hoor nie.

Volgens Dr Melodie de Jager is die oor se senuweeselle gehaar soos die note op ‘n klavier. Die haarnote word gestimuleer deur spesifieke toonhoogtes en klankkleure. Elke bietjie blootstelling roer verskillende haarnote. Dus hoe wyer die verskeidenheid van klanke, en hoe meer gereeld, hoe meer word die oor gestimuleer om ‘n fyn aanvoeling te he vir taal en musiek. Na 1 jaar begin ‘n ‘snoeiproses’. Neurologiese paaie wat in onbruik le, word so uitgeskakel. Daarna word die kind die aanleer van musiek asook ‘n tweede taal moeiliker.

Dit is dus uiters belangrik om op te let na die klankwereld van die baba. Ons moet oplet dat hulle goeie kwaliteit klank hoor. Daar is ‘n groot verskil tussen elektroniese en akkoestiese klanke. Die klanke van die stem, klavier, akkoestiese kitaar, viool, fluit ens. vibreer elk met sy eie golfpatroon. Hulle resoneer ook saam, indien hulle gelyk klink. Hierdie simpatiese vibrasie vind nie plaas met ‘n elektroniese instrument nie. Elektroniese stimulasie is dus onvoldoende en van minderwaardige kwaliteit.

Voor die koms van televisie het gesinne die aande verwyl deur saam musiek te maak, stories te vertel of voor te lees, grappe te vertel en speletjies te speel. As slaaptyd kom, het Ma, Pa of Ouma vir Baba in die bed gesit met ‘n wiegeliedjie. In daardie omgewing is kinders van voor geboorte blootgestel aan die klankwereld wat eie is aan hulle kultuur. Met die koms van televisie het daardie kultuur stelselmatig verdwyn. Met elke nuwe tegnologiese voortuitgang is daar minder tyd vir gewone saamwees. CDs met elektroniese verwerkings vervang die klank van die ouers se sang. Hoewel daar voordele is aan die ontwikkeling van tegnologie, het ons en ons kinders geweldig ingeboet itv ouditiewe ontwikkeling.

‘n Baba word gebore sonder ‘n klankfilter; dus onderskei hy nie tussen relevante en irrelevante klanke nie. Stelselmatig leer ‘n baba om te fokus op die belangrike klanke, en die ander te ignoreer. Daar is ongelukkig deesdae soveel klanke wat kompeteer, dat baie kinders se filter ooraktief is. Hulle sny soveel klanke uit dat hulle ook nie hul ouers en onderwysers se stemme hoor nie! Ons skryf dit dikwels toe aan ongehoorsaamheid of moedswilligheid. Is dit werklik die kinders se skuld dat hulle van babatyd so gebombardeer word met klank?

Ons kan nie heel wegdoen met al ons elektroniese hulpmiddels nie, maar ter wille van ons kinders, behoort ons doelbewus ‘n poging aan te wend om hulle klankwêreld te verbeter.

Dit behels dat ons elektroniese media slegs aanskakel wanneer ons hulle aktief gebruik. Ook moet ons as ouers van voor geboorte af met baba praat en vir baba sing. Ons moet ons kultuur lewendig hou deur, rympies op te se, stories voor te lees, en grappe en kampvuurstories saam te geniet. Hier is Oupa en Ouma ook van onskatbare waarde.

Ons moet saamsing waar ons ookal kan; in die motor, in die huis, by die kerk. Indien iemand in die gesin ‘n instrument kan bespeel kan dit so handig ingespan word, en bydra tot ‘n ryk klankwêreld. Die blootstelling aan ‘n verskeidenheid instrumente en klanke berei dit ook die kind se oortjies voor om later self musiek te maak.

Die meeste van die blootstelling moet plaasvind in die moedertaal, maar dit is ook baie voordelig as die baba soms liedjies of gediggies hoor in ‘n ander taal. Dit berei haar ook voor op mense en kulture wat anders is, en maak die leer van ‘n tweede taal makliker.

Slaaptyd is die ideale geleentheid om saam te gesels oor die dag se gebeure, saam te bid, wiegeliedjies te sing en lekker snoesig bymekaar te wees.

So help klank en musiek om die baba ‘n gevoel van geborgenheid te gee, en help dit ook die baba om die ritme en frekwensie van sy moedertaal aan te leer.

Ek is van mening dat ons kinders baie beter op skool sal vaar indien hulle van babatyd af omring word met klanke wat hulle opbou. As hulle meer sinvolle klanke hoor en minder geraas, behoort hulle van kleins af beter te luister, beter te verstaan, en ook beter te voel oor hulself en die wêreld om hulle.

How do I improve the sound world of my family?

  • Switch off electronic devices unless they are in active use.
  • Do not allow TV or radio to become a constant background noise.
  • Listen to Grandpa’s childhood tales
  • Enjoy a joke together
  • Enjoy meals together, without mobile phones!
  • Read the Bible together as a family
  • Listen to true tones of various good quality music instruments.
  • Listen to good music
  • Read stories and nursery rhymes to your children
  • Listen to the sounds of nature
  • Move, dance and sing folk tunes together.
  • Listen to mother tongue speakers of other languages too.
  • Sing lullabies to your baby.
  • Chat with your children often.

How much stimulation is good for your unborn baby?

The fetus has a plug of water in his ears, and therefore hears sound dimly. To place loudspeakers on the mother’s belly and constantly ‘feed’ the baby with music, is contrary to nature.

There is danger in ‘hothousing’ babies, providing them with non-stop stimulation in the hope that they might become geniuses. In most cases, the process is unsuccessful, and it has even resulted in emotional damage.

Make music and good quality sound part of your everyday life, and your baby will reap the benefits.

Talking, singing and dancing with your baby enhances his feeling of being loved. That knowledge of unconditional love makes it possible for the baby to learn and develop optimally.

 

Bronne:

  1. Dr. Jacqueline S. Chapman :The relationship between auditory stimulation and gross motor activity of short-gestation infants
  2. Cornelissen, C; Howell, M.: True Tone, Hearing and Speech - www.mindmoves.com
  3. Collins, S.K., & Kuck, K. (1991). Music therapy in the neonatal intensive care unit. Neonatal Network, 9(6), 23-26.
  4. Interview with Dr. M. de Jager
  5. Ruthann Ritchie, RMT-BC., Leonard Sacks, - Fred J. Schwartz, M.D., M.D., Cynthia Phillips, OT: :MUSIC, STRESS REDUCTION AND MEDICAL COST SAVINGS IN THE NEONATAL INTENSIVE CARE UNIT www.transitionsmusic.com
  6. www.tomatis.com
  7. http://en.wikipedia.org/wiki/Taegyo